Wednesday 10 June 2009

Beeld - 10/Jun/2009

Source(http://jv.news24.com/Beeld/Vermaak/Nuus/0,,3-2109-2110_2528418,00.html deleted)  

Afrikaan online publication. Google translation (Afrikaan -> English).

‘Swaers’ maak harte oop
Jun 10 2009 04:37:05:813PM – (SA)

Luke Macfarlane en Dave Annable (Scotty en Justin in Brothers & Sisters) tydens hul besoek aan Suid-Afrika verlede week.
Dis die bobbejane en die twee oseane wat Luke Macfarlane en Dave Annable die meeste van Suid-Afrika sal onthou. Amanda de Lange het met dié twee akteurs van die TV-reeks Brothers & Sisters gesels.
As ’n mens skielik en onverwags die geleentheid kry om met Brothers & Sisters se twee swaers, Justin (gespeel deur Dave Annable) en Scotty (Luke Macfarlane) te gesels, dan los jy alles net só en laat spat om betyds te wees.
Jy kners op jou tande oor al die rooi verkeersligte en stopstrate en motors wat voor jou aankarwei teen 30 km/h en gee nie om dat jy skoon windverwaaid en uitasem is wanneer jy by jou bestemming aankom nie.
Dit is immers Justin en Scotty!
Só warrel ek verlede week by M-Net se kantore in ná ’n blitsige uitnodiging om tien minute met dié twee akteurs te gesels.
Annable staan en gesels met ’n klomp gaste in een van die raadsale toe ek daar aankom.
Macfarlane is nêrens te sien nie.
Die jong donkerkop strek sy arms vriendelik uit toe ek aan hom voorgestel word en vou my in ’n lekker drukkie toe.
“Wonderlik om jou te ontmoet. Welkom hier. Welkom by M-Net, welkom by mý M-Net,” lag hy.
Hy begin vooruitstap na die kantoor waar die onderhoud gaan plaasvind. Hou die deur galant vir my oop.
“Ek weet nie hoekom ek vooruit loop nie,” lag hy, “dis nie asof ek weet waarheen ek gaan nie …”
Ons gesels ’n bietjie op pad na waar ons Macfarlane gaan ontmoet. Annable blom oor die Suid-Afrikaanse vriendelikheid en die plekke wat hulle in Kaapstad (vanwaar hulle pas gekom het) gesien en die mense wat hulle ontmoet het.
“Dis heerlik hier. Wonderlik.”
Ontmoet jy Macfarlane is die ontvangs ewe warm. En dis sy mooi, diep blou oë wat jy eerste raaksien. Onder die wakende oog van hul publisiteitsbeampte kan die onderhoud begin.
Wat kan julle ons vertel van jul onderskeie karakters in die derde seisoen? Wat gebeur?
Annable: In hierdie seisoen wentel Justin se hoofstorielyn eintlik maar om Rebecca en of hulle ’n romantiese verhouding gaan hê of ’n platoniese vriendskap.
Ek dink dit is hul reis: Om uit te werk wat ons is en waarheen ons gaan. En is jy regtig nie my suster nie of is daar nog ’n draaibal aan die kom later in die seisoen?
En is Justin nou klaar met die weermag?
Wel, ja, vir nou. Maar jy hou nooit op om ’n veteraan te wees nie. En dit is ’n belangrike ding wat ek graag sou wou hê ons program in gedagte moet hou.
Ná Justin se beserings was daar ’n dwelmprobleem. Is dit nou iets van die verlede?
Dit is ’n stryd wat jy jou lewe lank voer en jy moet besluite neem op grond van die keuses wat jy in die verlede gemaak het. Justin sal altyd daardie stryd hê, maar nee … daar is nie middelmisbruik in die derde seisoen nie.
Luke, vertel ons van jou huweliksgeluk.
Macfarlane: Aaaah. Huweliksgeluk. Ja, wel, dit is nogal snaaks omdat daar tot dusver in die reeks deurentyd spanning in Kevin (Matthew Rhys) en Scotty se verhouding was. Maar in hierdie seisoen word hulle ’n baie stabiele paartjie.
Hulle het nogal ’n wankelrige begin gehad …
O, hulle het ’n báie wankelrige begin gehad. Hulle was saam, het uitgemaak, was saam, het uitgemaak. Hulle (die vervaardigers) was nie seker of ek in die reeks sou bly nie. Hulle het my getoets, my ge-oudisie. (Hy lag lekker).
Noudat ek daar is om te bly, is dit happily ever after. Maar daar is ’n bietjie van ’n vraagteken daar. Kevin was altyd die broodwinner. Hy het al die geld verdien, maar miskien begin Scotty bietjie meer verdien. Daar is beslis ’n magsdinamika daar wat gaan verander.
Jy speel ’n gay karakter. Is dit vir jou moeilik of is jy self gay?
Ek is gay.
So dis nie vir jou moeilik nie?
Nee, ek het die besluit geneem om oop oor my seksualiteit te wees. Dis net ’n aspek van my lewe soos enigiets anders. Net omdat ek gay is, beteken nie ek en Scotty is enigsins dieselfde nie. Ek het wonderlike ondersteuning van al die karakters gehad en veral van Matthew, want hy speel my man en hy is beslis nie gay nie. Maar hy is so oop en nooit ongemaklik met enigiets nie. Dit is ’n ware getuienis van sy vermoëns as akteur.
Was jy ooit bang om as ’n gay karakter gestereotipeer te word?
O, ja. Daar is beslis daardie vrees. Maar ek dink dis belangrik om dit tersyde te skuif, want dit is ’n belangrike kwessie van ons tyd. Gelykheid vir gays is die laaste 30 jaar ’n belangrike stryd in Amerika. So, natuurlik is ek bang om gestereotipeer te word, maar ek moet daardie vrees opsy skuif.
Vertel my van jul mede-akteurs? Julle speel saam met groot name: Calista Flockhart, Rob Lowe, Sally Field, om maar net ’n paar te noem.
Annable: Dit is ongelooflik. Ek dink vir sulke jong akteurs soos ons om in ’n reeks in te kom en hierdie soort van groot “onthullingspartytjie” te hê. Om by hierdie akteurs te leer … dis soos om elke dag skool toe te gaan. En ons is so gelukkig, want hulle is so gewillig om ons te leer. En te gesels – oor enigiets.
Macfarlane: En om heeltemal eerlik te wees. Ons gebruik hul roem om ons s’n aan te help. En om Suid-Afrika toe te kom. (Lag).
Hoe het julle gevoel toe julle die rolle gekry het?
Annable: Ek was die eerste een in die rolverdeling, so ek het nie geweet al hierdie groot name gaan aansluit nie. En toe hou ek aan om al hierdie oproepe te kry, soos Calista Flockhart het geteken. Calista Flockhart! Rachel Griffiths! Rob Lowe! (Hy gil met elke naam). O, my aarde, ek gaan beroemd wees. Dit was soos ’n droom wat waar geword het. Maar hoekom was dit so opwindend? Omdat dit so ’n goeie draaiboek is. Daar was vir lank nie ’n goeie gesinsdrama op Amerikaanse televisie nie en ek dink ons het dit teruggebring.
Macfarlane: Dis vir my ’n bietjie anders omdat ek eers later deel van die rolverdeling geword het. Ek het reeds geweet wat om te verwag. In die algemeen vir ’n akteur, en vir albei van ons, het ons gewerk aan heelwat verskillende reekse wat nie … (Annable beweeg sy hand soos ’n vliegtuig wat val.)
(Laggend) Ja! En Brothers & Sisters was heel aan die begin nie die sukses wat dit nou is nie. Maar ons het weekliks die kyksyfers gesien en dit het net beter en beter geword.
Hoe stem jul eie gesinslewe ooreen met dié in Brothers & Sisters?
Annable: My familie is presies dieselfde en dit is hoekom die skrywers so goed is. Ek het by my ?jonger suster uitgevind my ouer suster is swanger terwyl my jonger sus op die foon was met my ma.
En toe my ousus my bel om my te vertel, toe sê ek ek weet reeds. En sy sê: “So what? Is ons die Walkers?” Maar dit ís wat hulle geskep het. Hulle het regte gesinsverhoudings geskep.
Macfarlane: En baie van die skrywers het gesinne en hulle neem ervarings daaruit en skryf daaroor. Die hele storielyn met Scotty kom van een van die skrywers wat gay is. En hy en sy lewensmaat is, wel, Kevin en Scotty, om eerlik te wees! (Lag.)
En daarmee is die tyd verby en die twee Hollywood-sterre op hul pad uit. Maar nie voor daar nog drukkies en goeie wense uitgedeel word nie.
“Dis die mense wat vir my uitgestaan het,” vertel Annable. “Ek en Luke het daaroor gepraat, oor hoe wonderlik al die mense was die hele tyd wat ons hier was. Ons is soos koninklikes behandel,” sê hy.
“Ons het spesifiek ervaar die Suid-Afrikaners is baie op die man af. Hulle is ’n bietjie meer reguit as Amerikaners, wat ons baie verfrissend gevind het,” las Macfarlane by.
En ’n hoogtepunt van wat hulle hier gesien het?
“Bobbejane,” laat Macfarlane dadelik hoor.
Hulle lag.
Annable vertel van die voorreg om by Kaappunt te staan en die twee oseane ineen te sien smelt. “Ek het nooit gedink ek sal daar staan en dit sien nie.”
• Brothers & Sisters se derde seisoen begin in Augustus op M-Net.
Walkers  se wee
Brothers & Sisters is ’n Amerikaanse dramareeks wat in September 2006 op die ABC-kanaal afgeskop het. Dit handel oor die Walker-familielede en hul lewe in Los Angeles, Kalifornië.
Sally Field het in 2007 ’n Emmy gewen vir haar rol as Nora Walker, terwyl Rachel Griffiths vir ’n Emmy benoem is as beste vrouebyspeler in ’n dramareeks. Daar is reeds in April vanjaar aangekondig dat daar ’n vierde seisoen van Brothers & Sisters op pad is.

No comments:

Post a Comment